Ons Storie

Die begin

Die begin is natuurlik Christus. NG Elarduspark gemeente staan in die eeuelange tradisie van die  Christelike Gereformeerde  tradisie. Die wortels het gegroei van Christus, deur die Katolieke ("algemene") kerk, deur die Rooms-Katolieke kerk (nadat die Oosterse en Westerse kerk verdeel het), deur die Hervorming (1517) tot die nedersetting aan die kus van Suid-Afrika.  Ons eie gemeente is gestig in 1975 en staan nog steeds op "plaasgrond". Die verstedeliking het meegebring dat die gemeente gegroei het tot 'n makro-gemeente van 4500 lidmate. Tans  het ons 5 leraars wat elkeen 'n spesialiteitsveld het.

Die liefde van God

Hier gaan dit oor God. Ons bely dat:
Jesus is die Here. Jesus is hier. Kom ons rus in Hom.

Ons is navolgers van die opgestane Here Jesus Christus en dien as Sy priesters in 'n wêreld van nood. Tydens die erediens verteenwoordig ons as priesters  die wêreld by God (bring Hom die eer en dankoffers namens die wêreld) en aan die einde van die erediens word ons uitgestuur as priesters om God by die mense te verteenwoordig.

vir elke mens

By NG Elarduspark gaan  dit nie oor 'n gebou nie, maar oor die gemeenskap. Die geloofsgemeenskap dien die gemeenskap. Ons hou van kuier en wil mekaar werklik ken. Daarom is gasvryheid vir ons belangrik. Jaarliks het ons twee groot feeste naamlik die Warm-winter Fees en die Hoenderbraai ten bate van die Bybelgenootskap.  Hier dien elkeen met sy/haar gawes en ons maak God se liefde tasbaar vir hierdie wêreld!

oor alle grense heen

Ons is nie hier ter wille van onsself nie, maar vir die wêreld wat God so liefhet. Soos God oor grense beweeg het en die eerste inisiatief geneem het, neem Hy ons saam met Hom oor grense (wat ons opgestel het) na mense.

Wees deel van God se storie...

Sluit aan by ons geestelike familie. Ons kom ook op Sondae bymekaar. Sien ons eredienstye.