Ons Logo

Die logo beeld primêr ons gemeente se roeping uit, naamlik die liefde van God vir elke mens oor alle grense heen.

Met die liefde van God as vertrekpunt, word daar in die logo veral gewerk met die menswording asook die opstanding van Christus. Die groter, donkerder figuur dui op God wat in Christus deur die buitenste sirkel die aardse bestaan toetree om die mens, voorgestel deur die kleiner, ligte kol, uit
die nood van sonde asook daaglikse  lewensellende te help.

Die groter, donkerder figuur se arms vergestalt in voorkoms die letter “C” en is ‘n aanduiding van Christus se naam.
Daarbenewens is die “leë C”  simbool van ‘n leë graf met die ronde skyf van die grafsteen wat
weggeskuif is. Posisioneel is die opening van die graf ‘n bietjie “bo”, waardeur artistiek  uiting gegee word aan die opheffende en ondersteunende dimensie van God se  menswording en opstanding in Jesus. Die leë graf dui op die krag van God se oorwinning wat ‘n boodskap van hoop bring vir elke mens.
Die Bybel stel dit duidelik dat ons in Christus is en Christus in ons. Daarom word die groter, donkerder figuur ek en jy wat op die voetspoor van Jesus na andere uitreik. Die krag van die
opstanding (leë graf) leef in ons, omdat die opgestane Christus in ons leef. Ons spreuk – die gemeente wat omgee – vind direkte
aansluiting by ons leuse.