Ek is nuut

Welkom by die gemeente wat omgee

Wat jy kan verwag op 'n tipiese Sondag...

NG Elarduspark vind 'n goeie middeweg tussen tradisie en kontemporêr. Hier word ruimte geskep in die teenwoordigheid van God vir jou unieke menswees... jy kan kom net soos jy is.

Wanneer jy by die hoofingang ons grond betree, sal jy beleef dat daar meer as genoeg parkeerplek is met goeie sekuriteit. Die hoofsentrum (kerkgebou, kerkkantoor, mediasentrum en EloHim koffiewinkel) is aan jou linkerkant en ons sale ("Artos & Oinos") en lapa is aan jou regterkant. Hierdie geboue word aan mekaar verbind deur 'n groot groen grasperk wat ook op Sondae gebruik word vir parkering.

Voor die erediens groet ons leraarspan jou by die voordeur.  Stel jouself voor en vertel vir ons waar jy vandaan kom.

Indien jy kinders het, kan jy soos volg maak:
0-2 jaar - Ons het 'n klein moederskamer links voor in die kerkruim vir ouers met heel klein babas. Vir ouers en babas wat opstaan, rondkruip en begin oefen om te loop, het ons 'n groot moederskamer agter in die kerkruim.
2-4 jaar - Ons Peuterkerk is in die Blousaal (regs van die kerkkantoor in die gang af ). Jy kan peuters voor die diens daar aflaai en na die erediens weer daar kry.
4-6 jaar - Ons Kleuterkerk is in die lokale tussen die koffiewinkel en die kapel.  Jy kan hulle voor die diens daar aflaai en na die erediens weer daar kry.
Graad 1-6 - Hierdie kinders  woon die eerste 10-15min van die erediens saam met jou by. Tydens die erediens het ons 'n Kindermoment waarna al die kinders dan saam met hulle kinderwerkers uitbeweeg na die kinderkerk wat in die Artos- & Oinossale gehou word.  Jy kan hulle na die diens daar kry.
Indien jy graag by die geloofsfamilie van NG Elarduspark wil aansluit, ontmoet asseblief die leraar na die erediens voor in die kerkruim. Hier sal die Nuwe Lidmaatspan jou ontmoet en met die nodige administrasie help. Jy kan hier ook die Nuwe Lidmaatvorm invul en saambring na die kerkkantoor of invul en stuur aan Alida Keet ons data-beampte by data@ngelarduspark.org.za.
Kom kuier saam en drink koffie of tee na die afloop van die erediens in die koffiewinkel of onder by die lapa (by die lapa waar ook koek of iets lekker te koop is).
Ons het twee keer 'n jaar 'n Nuwe Lidmate ete wat oor 3 Maandagaande strek waar ons jou aan mense van jou portuurgroep voorstel, die gemeente se teologiese identiteit leer ken en ons leraars ontmoet. Jy sal in die weke vooraf 'n e-pos uitnodiging ontvang. Jy kan gerus na ons gemeente se teologiese identiteit hier kyk deur dit af te laai.

Het jy enige navraag of benodig jy hulp  ?

Kontak Sonya by ons kerkkantoor.